Dinge vir ‘n kind? Liggaamsopvoeding in skole

Artikel gepubliseer met grafika op LitNet: Vandag en gister

Nuusbrief 786  13/02/2020

 

Deur Marietjie Warrington

 

 

CSE in sprevuur en die land gons …

Die bekendmaking van die departement van basiese onderwys se voorgestelde geskrewe lesplanne vir seksvoorligting by skole, Comprehensive Sexuality Education (CSE)  het die land aan die gons.

Sedert die inisiatief se bekendstelling is ‘n herrie ontketen en het wanbegrip, fopnuus en ‘n gebrek aan kommunikasie aansienlike negatiewe- en soms onakkurate persepsies geskep. 

CSE- inhoud verander nie

Volgens die departement se webtuiste is die aanvanklike leerplan, Comprehensive Sexuality Education (CSE), in 2000 ingestel as deel van lewensoriëntering en word dit nou met meer omskrywende lesplanne en werkboeke in geskrewe formaat beskikbaar gestel. Die departement bevestig dat niks van die oorspronklike inhoud verander is nie:

“CSE has been part of the curriculum since the year 2000. The change is that in 2015 the DBE developed Scripted lesson plans (SLPs) which are currently being tested in five provinces in order to strengthen teaching in schools. The SLPs are learner and teacher support materials that are designed to aid teachers and learners to address these important topics in a systematic manner.”

Volgens die departement is die CSE ‘n kurrikulum-gabaseerde proses van onderrig wat fokus op die aanleer van die kognitiewe, emosionele, fisiese en sosiale aspekte van seksualteit.

Program nog nie gefinaliseer

In ‘n verklaring wat die onderwysdepartement einde verlede jaar op hul webwerf uitgereik het, word dit duidelik gestel dat die program nog gefinaliseer moet word. Volgens inligting is die leerplan vir onderwysers ook nie afdwingbaar nie.

 

Jaco Deacon lewer kommentaar

Jaco Deacon, adjunk-hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) sê demokratiese prosesse is gevolg alvorens die CSE in 2000 geïmplimeteer is.

“Die 2000- prosedure was ‘n volledige kurrikulumproses met openbare deelname waartydens vakbonde, belanghebbendes en etlike organisasies by betrokke was,” sê hy

Hy meen ook dat die huidige herrie veroorsaak is deur die voorlegging in die parlement sonder dat interne rolspelers of die publiek hiervan geweet het. Die kommunikasie was ook nie duidelik dat die  nuwe materiaal slegs bykomende bronne en hulpmiddels is nie en dat die voorgeskrewe lesplanne en werkboeke nie verpligte leermateriaal is nie.

“Hulle moes toe hoor dit is verpligtend en as ouers nie saamstem nie, moet hulle privaatskole toe. Opvoeders sal aangekla word as hulle dit nie aanbied nie.”

Proeftydperk nodig om lesse te toets

Die departement se proeflopie om die geskrewe lesplanne te toets, is reeds in volle swang. Provinsies met die hoogste voorkoms van MIV in die land naamlik die Wes-Kaap, Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulul en Natal is uitgesonder om deel te neem.

Terugvoer en evaluasie geskied op ‘n deurlopende grondslag, wat die CSE se uiteindelike lesinhoud sal bepaal.

‘n Keerdatum vir wanneer die proeftydperk eindig, is nog nie aangekondig nie en volgens die departement word die sillabus steeds ontwikkel en aangepas. Ouers en onderwysers wat nie by die proeflopie betrokke is nie, is genooi om insette oor die geskrewe lesplanne te lewer. Die program sal by alle skole ingestel word wanneer die owerheid daarmee tevrede is – ‘n finale besluit is nog nie geneem nie.

Departement poets bestaande program

Die toename in onder andere tienerswangerskappe, MIV/Vigs statistiek wat opwaarts neig en die meer as ‘n derde van seuns en meisies jonger as 17 wat deurloop onder seksuele geweld, het die department aangespoor om die bestaande CSE te poets.

Gepaste leerstof vir die onderskeie ouderdomsgroepe is onder leiding van die Department van Basiese Onderwys en kundiges saamgestel. Die United Nations Educational, Scientific and Cultural Oranization (Unesco), plaaslike en internasionale konsultante,  hoogaangeskrewe navorsers en ‘n raadgewende komitee het insette gelewer en monitor steeds die terugvoer.

Seksualiteitsopvoeding is nie seksopvoeding

Jongmense word deur dié kennis bemagtig, beskerm en ondersteun om in verantwoordelike volwassenes te ontwikkel. Dit poog om kinders en die jeug met vaardighede, kennis en positiewe gesindhede toe te rus vir die oorgang van kinderjare na grootmenswees.

Die leerplan fokus op seksualiteitsopvoeding, verhoudings, waardes en weerbaarheid. Slegs ouderdomsgepaste inligting is ingesluit. Daar is hoegenaamd nie sprake van seksopvoeding (inhoud wat geslagsomgang omskryf) nie, sê die departement.

Tussen tien en twaalf jaar

Vir leerders tussen tien en 12 jaar oud is lesse saamgestel wat op veiligheid fokus – wat kanse verklein dat kinders slagoffers word van seksuele mishandeling, seksuele voorbereiding en afknouery (bulliegedrag) Kinders leer om seksuele misbruik te identifiseer en hoe om dit aan te meld.  Respek vir eie liggaam en die van ander is ingesluit

Tussen 13 en 15 jaar

Leerders tussen 13 en 15 jaar word aangemoedig om te wag alvorens hulle seksueel aktief raak. In die fase word die voorkoming van swangerskap en MIV behandel. Antiretrovirale medikasie en die verkryging daarvaan word bespreek. Ander seksuele-oordraagbare siektes word in die fase belig. Dit dek ook “veilige seks” vir jongmense wat reeds seksueel aktief is en dui aan waar om hulp te kry in die geval van verkragting.

Tussen 16 en 18 jaar

Vir leerlinge tussen 16 en 18 jaar oud word aandag toegespits op keuses, rolmodelle, menshandel, persoonlike aksieplanne en die vervulling van toekomsplanne.

Die departement reël inligtingsessies

In Januarie het die departement onder andere ‘n reeks konsultasies gereël om misleidende inligting, fopnuus en wanopvattings op te klaar. Tradisionele en geestelike leiers het in Pretoria die geleentheid gekry om aan gesprekke deel te neem. Dr Granville Whittle, die adjunk-direkteurgeneraal: versorging en ondersteuningsdienste van die onderwysdepartement, het geestelike leiers uitgedaag:

“You cannot object to CSE if you did not study the curriculum. So read it and let’s have an informed discussen. This does not have to be the end of the conversation.”

Ds Nioma Venter lewer kommentaar

Ds Nioma Venter, predikant in sinodale diens van die diensgroep Diaconi (PSD), ondervoorsitter van die Algemene Sinode en waarnemer by die konsultasie, meen die kerk word uitgedaag om in die lig van huidige omstandighede in die land (tienerswangeskappe, seksuele geweld en toename in MIV-syfers) toenemend by waardevorming betrokke te raak en in besonder kinders hierin te begelei.

 “Die debat het beklemtoon dat kinders geweldig blootgestel is. Bemagtigting met waardes, kennis, vaardighede en ondersteuning hoop om ‘n verskil te maak.”

Oor die mistastings van kurrikuluminhoud sê sy:

Dit blyk dat allerhande mistastings oor die kurrikuluminhoud die rondte doen. ‘n Goeie voorbeeld is die onderrig oor masturbasie wat oënskynlik in die lesplanne sou wees. Die waarheid is dat dié tema onder die hofie risiko-gedrag opgeneem is en slégs in die opvoeder se gids voorkom.

Kritici grafiese lesplanne en sagte pornografie

Sommige kritici meen van die lesplanne is te grafies en koppel dit selfs aan “sagte pornografie.” Die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) beskou dié lesplanne ook nie as ouderdomsgepas nie.

Badisa, ‘n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaap en die VGKSA (Kaapland) stem nie noodwensdig saam nie. In hul hoedanigheid as geregistreede kinderbeskemingsorganisasies is drie van hul spesialiste gevra om die CSE-kurrikulum te bestudeer. Hulle bevind:

* Die kurrikulum is wetenskaplik akkuraat en leer kinders om korrekte terminologie te gebruik.

* In die meeste gevalle is die materiaal ouderdomsgepas; spreek dit kritieke scenarios aan waarin kinders die geleentheid gegun word om te oefen om positiewe keuses te maak en begrip te ontwikkel vir die gevolge van hul keuses.

UNESCO lewer kommentaar

Me Buyiswa Mpini, nasionale programbeampte van Unesco het tydens dié inligtingsessie in Pretoria die opbouende waarde van die program beklemtoon. Leerders word meer aangemoedig om gr 12 te voltooi, het sy gesê.

 Seksualiteit en waarom is dit belangrik

Seksualiteit is een van die mens se fundamentele dryfvere wat emosies, gedagtes en gedrag beïnvloed en in ‘n bepaalde rigting stuur. Kortom, dit omskryf wie en wat ons is en vorm die kern van menswees. Om die redes is sinvolle en eerlike leiding vir die jongklomp van die grootste belang.

Die Departement van Basiese Onderwys se beoogde seksvoorligting by skole, geskrewe leerplan vir onderwysers en werkboeke vir leerders kan hier lig in die tonnel skyn. Die klaskamer is ook by uitstek die aangewese plek om die inligting oor te dra.

  • Proefeksemplare van lesplanne vir leerlinge in gr.4 tot gr.12 is beskikbaar op die departement se webwerf: education.gov.za
  • Konstruktiewe kritiek oor lesinhoud na bestudering van die materiaal kan gerig word aan: S@dbe.gov.za en cc mpini.b@dbe.gov.za

‘n Vrou wat ek sal onthou

‘n Vrou wat ek sal onthou – my ouma met die groot hart!

 

Haar doopname

Maria Catharina Fredericka Kriek is haar doopname, maar ek het haar leer ken as  “Oumie” – my ouma met die flink verstand, groot hart en sagte boesem.  Sy’t nie  universiteitsopleiding deurloop nie, maar die lewe was haar leerskool en ervaringsveld.  Haar kennis en wysheid het sy onvoorwaardelik gedeel met almal  – tot groot voordeel van al vyf haar kleinkinders!

Gebore duskant Volkrust

Sy’s in  die laat agtienhonderds op ‘n plaas duskant Volksrust gebore en dis hier waar sy vir die eerste keer kennis gemaak het met die rou werklikheid van oorlog en konsentrasiekamp gruwels. Dog, die pynlike ervaring as jong meisie het haar nie verbitter nie, maar geleer om te vergewe en steeds die goeie in mense raak te sien: “Al is dit die vyand my kind, alle mense het ‘n blinkkant,” het sy altyd gesê.

Sy’t haar kleinkinders geïnspireer en geleer van geloof, deursetting en vergiffenis. Haar onuitputlike algemene kennis het my as jongeling geprikkel om vrae te vra: Sekerlik die geboorte van my latere loopbaan as joernalis!

Sy kon alles onthou

Ouma kon onder andere vir ons as kinders uiteensit waarom ‘n vliegtuig in die lug bly “hang;” hoe die tweede wêreldoorlog beëindig is; wie die eerste elektriese lig aangeskakel het en waarom Winston Churchill as joernalis ‘n draai in Pretoria moes maak. Sy kon met ‘n passie vertel van haar laaste rit op ‘n ossewa; die eerste Fordjie; die penniesomdraai tydens die depressiejare, die hartseer storie van Jopie Fourie en die dame met die goue hart, Emily Hobhouse.

Liefde vir geskiedenis

Haar skatkis van herinnering het by al haar kleinkinders ‘n groot liefde vir plaaslike en internasionale geskiedenis gekweek. Die vertellings het sonder twyfel ook die navorser in ons wakker gemaak en tot latere akademiese voorkeure en  prestasies bygedra.

Soos sy geleef het, só is sy dood: nederig en met ‘n onwrikbare geloof in haar Skepper. Vroeg een Sondagoggend het ons op haar afgekom waar sy op haar knieë, voor haar bed in ‘n biddende posisie gesterf het.

In Wespark begrawe

Sy is op ‘n reënerige wintersoggend in Wespark Johannesburg begrawe, maar haar vertellings en inspirasie sal bly voortleef tot die dag wat ek, haar naamgenoot en kleindogter, Maria Warrington by haar sal “aansluit.”

 

 

Die Kleintjie-Willemse storie

Almal hou van stories – wolhaarstories, spookstories, stories met ‘n kinkel of stories wat sommer net al jou hare laat rys. Party stories laat jou regop sit; ander gly in die niet verby sonder ‘n nadraai. Maar dan is daar stories wat jou middernag in die bed laat rondrol en laat wonder: was die fluisteringe agter gebakte hande die ronde waarheid of die produk van verveelde plattelanders? En dis hier waar die besnorde Kleintjie Willemse en Lina se verhaal afskop …

Kleintjie Willemse en sy metgesel het as nuwe intrekkers uit die staanspoor die wenkbroue laat lig. Met die intrapslag wou dit voorkom asof hulle net so ‘n rapsie “beter” wou wees as die deursnee burger. So het die meeste mense die storie oorvertel.

Dis veral Lina se onberispelike voorkoms en smaakvolle grimering wat tant Essie, die “plaaslike uitsaaidiens,” laat wonder het waarom sy soveel window dressing benodig.

“Wat steek die meisiekind weg,” wou sy by haarselwers weet.
Kleintjie self se stil afsydige houding, veral teenoor die bure wat wou handjie bysit met die aflaai van hul trek, het negatiewe kommentaar uitgelok. Buurman Danie wou nie net help met die aflaai nie, maar was selfs bereid om kratte vir sy nuwe buurman uit te pak. Op ‘n uiters beskaafde wyse en sagte stemtoom het Kleintjie hom laat verstaan dat hulle privaatmense is wat self dinge doen.

“Ons is hier om te woon, nie om te kuier nie,” het hy in ‘n amperse fluisterstem vir Danie gesê.
Tydens die kort ontmoeting kon Danie nie help om die nuwe buurman se litteken bokant sy linkeroog op te merk nie. Dit het hom sterk herinner aan sy eie neef Herklaas, die dorp se bobaas-bokser.
Van agter vele kantgordyntjies is die nuwe intrekkers se aflaai en indra dopgehou. Ligroos houers gemerk “couturier for Kinkel”, het veral tant Essie se nuuskierigheid geprikkel.

Die Willemse-egpaar het sonder bohaai stil-stil nesgeskop en hulle eie gang gegaan. Dog die dorp se Gereformeerde herder het na twee weke probeer om die Willemse by sy kerk te betrek. Maar helaas, hy en ouderling Wessels het self hier ‘n bloutjie geloop.

Op ’n aand, so kort voor aandete, het die twee met Bybel onder die arm aan die Willemse se voordeur geklop. Na ‘n rukkie het Kleintjie self oopgemaak. Natuurlik het hy geweet waaroor dit gaan en die ongevraagde en ontydige huisbesoek vinnig kortgeknip. Op sy hoflike manier het hy die besoekers laat verstaan dat hulle nie kerkmense is nie en net met rus gelaat wou word.

En so met die verloop van weke het die klein landelike gemeenskappie gewoond geraak aan twee mense wat net hulle eie ding wil doen, of so het meeste mense gedink. Niemand kon ‘n vinger wys nie, maar daar is gegis, geskinder en beloer.

Die poskantoorklerk, Johannes, was die eerste “beriggewer” wat die Willemse-huishouding met tasbare nuus onder die soeklig kon plaas. Hy het met geur oorvertel dat medikasie vanaf Johannesburg elke veertien dae by hul beskeie huisie afgelewer word.

Tant Essie het natuurlik hier by die storie aangelas en kort voor lank was Kleintjie en Lina terminaal met kanker! Danie het die storie verder gevat en besluit die litteken aan Kleintjie se oog was ook ‘n kankertjie wat betyds hokgeslaan is deur ‘n befaamde internasionale chirurg.

En so het die een storie na die ander die loop geneem sonder dat nuusdraers en beriggewers ooit by die waarheid kon uitkom. Maar wat was die waarheid en was daar ooit ‘n raaisel. Besluit self …
Dis Rikus, die kontantwinkel se bestuurder, wat nuwe asem by die stories ingeblaas het. So in die verbygaan het hy opgemerk dat Lina reeds vir geruime tyd aankope doen sonder Kleintjie en dat sy onlangs vir ekstra kartonbokse gevra het.

“Wou sy inpak om te trek en wat het van Kleintjie geword?” het hy gewonder.

Sy gevolgtrekking het vinniger as die jaarlikse veldbrand versprei. Dis op die noot dat ouderling Wessels toe besluit om maar weer ‘n huisbesoek by die Willemse-huishouding aan te durf – om seker te maak daar hang nie egskeidingswolke oor die eksentrieke egpaar nie. As ouderling het hy dit sy plig geag om ondersteuning te bied sou iets die “heilige” huwelik bedreig – ‘n siening wat tant Essie heelhartig met hom gedeel het.

So gebeur dit toe dat ouderling Wessels, man alleen, ‘n paar dae na Rikus se onthulling voor die Willemse se voordeur staan. Hy’t skaars geklop of ‘n vietse dame maak oop. Op ‘n vraag of hy met Kleintjie Willemse ‘n paar woordjies kon wissel, sê die dame toe dat hier nie ‘n Kleintjie Willemse woon nie en dat so ‘n persoon nog nooit hier gebly het nie.

“My naam is Kinkel, meneer. Ek het nie nou tyd om te gesels nie. My vriendin Lina en ek is besig om te pak. Ons trek more,” het sy gesê.
Die dame se vriendelikheid het ouderling Wessels onkant gevang, maar iets aan haar voorkoms het hom geweldig gepla. Die rooierige bolip en pleistertjie onder die linkeroog het hom sterk herinner aan iets wat hy iewers voorheen gesien het, maar deksels of hy kon onthou waar …

Oldies kan blog en droom!

Sewentig kersies op die koek

Dagse! En wie het gese ‘n Golden Oldie kan nie blog of droom nie …  Nie waar nie!  Sewentig kersies op die koek is inderdaad ‘n groen lig om jou winterseisoen met janalleman te deel;  om saam met die kleinspan  die towerkrag en joligheid van hul jonkheid  te vier! Meng daarmee saam die toffielekkertes van “gister” soos die blikkie kondenesmelk wat stoom op die stoof, kleinjan wat vir ouma “ore aansit” met scrabble of Sannie wat huismense die riel leer dans… En siedaar, nou begin die poppe dans – die kulkunstenaar wat kieries terug in die kas laat klouter en snuifies vir oop longe die lug inblaas. Vir ‘n split sekonde verdamp al wat skeet is en staan jy weer op die vooraand van jou jonkheid – ‘n lieflike kortstondige droom

Horlosie kan nie terugdraai

Ongelukkig kan die horlosie nie teruggedraai word nie en het die spreekwoordelike grysheid se wysheid ook sy grense. So byvoorbeeld pla die “rekenaarspook” soms en dan is dit  sesjarige Sareltjie se werk om die tameletjie vir my te  ontspook ..  Sy kleuterkundigheid verstom  en die vreugde waarmee hy sy kennis deel laat my asemloos . Tog, al gly sy vingertjies oor die sleutelbord soos ‘n amper wafferse konsertpianis, wil hy steeds weet van die ou dae toe die wereld nog jonk was en ouma gepronk het op die sportveld . Dan reis ons saam in die verlede toe kannetjies nog hop scotch gespeel het en jy Jenny Post Mayonaise kon koop by die kafee op die hoek. Ai, en wat van die du Plooy’s van Soetmelksvlei? Daardie heerlike koffiekuier rondom die radio, Maandag tot Vrydag, toe rekenaars nog net in verhale hul storie kon vertel.

Die jare gly stil verby

So gly die jare stil-stil verby todat jy een oggend in paaiemente en met ‘n kierie opstaan om sewentig kersies vir jou verjaarsdagkoek af te tel. En dan vra jy jouself : Hoe op aarde het dit gebeur dat jy sonder waarskuwing by sewentig kersies uitgekom het … “Gister” het jy dan nog voor ‘n standerd ses klas gestaan …